Notify me of updates
Name
Surname
Email


 
 

To view a demonstration of FireFly Mobile click here

Mihan Bester

Mihan Bester

Website URL: http://www.naudes.co.za

Friday, 22 October 2010 12:24

Die wiele van ʼn verkooptransaksie word aan die rol gesit deur die ondertekening van ʼn koopooreenkoms of ʼn aanbod om te koop. In meeste van die gevalle is dit ʼn eiendomsagent wat die koopooreenkoms aan beide die koper en verkoper voorlê vir ondertekening. ʼn Eiendomsagent is die persoon wat namens die verkoper by die verkoop van onroerende eiendom optree. Nie enige persoon kan as ʼn eiendomsagent optree nie. Die Wet op Eiendomsagentskapsake, Wet 112 van 1976 bepaal dat alle eiendomsagente geregistreer moet wees by die Raad vir Eiendomsagentskapsaangeleenthede. Hierdie Raad reik ʼn Getrouheidsfondssertifikaat aan die agent uit wat verklaar dat die agent aan die voorgeskrewe minimum vereistes voldoen het wat daargestel word om as eiendomsagent op te tree en moet hierdie sertifikaat jaarliks hernu word. Indien u dus in met ʼn transaksie besig is waar daar ʼn eiendomsagent betrokke is, maak seker dat die agent aan die nodige vereistes voldoen en in besit van ʼn Getrouheidsfondssertifikaat is, anders sal u nie gedek wees deur die Raad se Getrouheidswaarborgfonds nie.

Dit is belangrik om te let op die inhoud van ʼn aanbod om te koop, indien dit deur ʼn eiendomsagent voorgelê word. Gewoonlik is ʼn koper onder die indruk dat daar na die ondertekening van ʼn aanbod om te koop, ʼn verdere koopooreenkoms onderteken moet word. Groot is sy verbasing indien hy dan later advies inwin en agterkom dat die aanbod om te koop met aanvaarding daarvan deur die verkoper ʼn koopooreenkoms word. Die gedrag van ʼn eiendomsagent word beheers deur die gedragskode van die Raad op Eiendomsagente. Sodanige kode bepaal dat ʼn agent die inhoud van ʼn koopooreenkoms deeglik aan die partye moet verduidelik. Die riglyne meld ook dat daar van ʼn eiendomsagent verwag word om aan sy kliënt aan te dui presies wat die ooreenkomste en verskille is tussen ʼn aanbod om te koop wat ontvang word, en die aanvanklike vereistes wat deur die verkoper aan die eiendomsagent oorgedra is.

Na ondertekening van die koopooreenkoms moet ʼn instruksie aan die oordragprokureur gegee word om toe te sien tot registrasie van die transaksie. Die vraag ontstaan dikwels na wie die oordragprokureur kan aanwys by die verkoop van onroerende eiendom. Eiendomsagente gaan soms uit hul pad om ʼn oordragsprokureur aan te wys. Dit is insiggewend om daarop te let dat die eiendomsagent nie die reg het om die oordragprokureur aan te wys nie. Daardie reg berus by die eienaar van die eiendom wat verkoop word, en sodanige reg behoort ook uitgeoefen te word. Die kode bevat pertinent ʼn klousule wat 'n verbod plaas op die onbehoorlike beïnvloeding van kliënte en bevestig die feit dat die eiendomsagent verplig is om na die beste van sy vermoë die belange van sy kliënt te beskerm en deurentyd moet poog om die eiendom op die bes moontlike terme en vir die bes moontlike prys te verkoop. Voorts bevestig hierdie riglyne die feit dat daar ʼn vertrouensverhouding van goeie trou tussen ʼn eiendomsagent en sy/haar kliënt bestaan. Derhalwe word van die eiendomsagent verwag om met die hoogste mate van goeie trou teenoor die kliënt op te tree gedurende die algehele proses van huisverkoop. Let ook daarop dat elke eiendomsagentskap ʼn trustrekening moet hê waarin alle gelde, soos enige deposito’s of huurgelde, inbetaal moet word. Sodanige trustrekening word jaarliks geoudit.

Die riglyne wat deur die Raad op Eiendomsagente uitgevaardig is, handel onder andere ook met die volgende aspekte, naamlik: die verlening van ʼn alleen-mandaat aan ʼn eiendomsagent, die verlening van ʼn mandaat aan meer as een eiendomsagent, belangrike aspekte om met jou gekose eiendomsagent te bespreek soos die agentekommissie ter sprake, presies welke dienste ʼn verkoper van ʼn eiendomsagent kan verwag, wat die inhoud van ʼn koopooreenkoms moet wees en ook wat die rol van die Raad op Eiendomsagente is. Onthou ook dat die bedrag agentekommissie wat deur die verkoper betaalbaar is, onderhandelbaar is, ongeag welke persentasie deur die agent geadverteer word. Daarbenewens bevat die riglyne ook ʼn hoofstuk vir eiendomsagente oor die koper se “afkoelreg” wanneer sekere onroerende eiendom gekoop word. Indien enige eiendomsagent of ander individu belangstel om hierdie riglyne te bekom, kan die Raad vir Eiendomsagente gekontak word by (011) 880-9994 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .